Die Franse Hugenote was die eerste mense wat in die 1690's wingerd geplant het in the vrugbare grond van die Stellenbosch omgewing.
Plase naby 'n rivier en digby n berg was uiters gewild, en dit is presies waar Nietgegund gelee is - digby die hange van die Stellenbosch Berg en die skoon water van die Blaauwklippenrivier wat deur die plaas vloei.
Die koel briesie wat vanaf die koue Atlantiese Oseaan oor die vrugbare grond waai gedurende die groeitye, maak hierdie area perfek vir wingerd.
Oor al die jare was van die wêreld se voorste wyne afkomstig van die Stellenbosch omgewing.

Nietgegund was oorspronklik deel van die Rustenburg plaas wat vandag bekend staan as Stellenkloof. Nietgegund is ‘n Nederlandse naam wat “nie gegee” beteken. Dit verwys na die meeste plase wat in die vroeë dae van die Kaap en Stellenbosch gratis aan die setlaars gegee was, terwyl Nietgegund se oorspronklike eienaar vir sy plaas moes betaal.

In 1790 was Rustenburg onder verdeel en Hermanus Johannes van Brakel het die eerste eienaar van Nietgegund geword.
Hulle het reeds in die vroeë jare wingerd geplant en uitstekende brandewyn gemaak. Grappa het ook later gevolg. Die Dreyer familie het die plaas in 2000 gekoop en in 2004 eers Merlot en Shiraz geplant en later ook Cabernet Sauvignon en Cabernet Franc. Die pragtige moderne “met outydse gevoel” proelokaal het sy deure in 2024 vir die publiek oopgemaak.
Deur al die jare het die area waar Nietgegund geleë is top wyne geproduseer. Hierdie area het bekend geraak as die Goue Driehoek van die Stellenbosch Wynstreek. Die verskeidenheid grondtipes is noodsaaklik vir goeie wyne. Die hoogtes in hierdie area wissel van 60 meter tot 400 meter. Grondtipes sluit klei, sandsteen en graniet in. Dit help nie net om water op te vang én te behou nie, maar ook vir goeie dreinering.
Die koel briesie wat van Valsbaai en die koue Atlantiese Oseaan oor hierdie area waai, is perfek vir kleiner bessies met optimale rypheid. Dit weer veroorsaak ‘n konsentrasie van vrugte geure, sowel as die heerlike en gesonde tanniene in rooiwyne en die perfekte sure in witwyne.

In 2008 het daar ‘n artikel in die gesaghebbende New York Times verskyn waar geskryf is dat nie minder as 60% van Suid Afrika se beste wyne uit die Goue Driehoek van Stellenbosch afkomstig is.
Behalwe wyn word daar ook suurlemoene gekweek vir die uitvoermark in hierdie area. area for the export market.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was baie Italianers gevange geneem en na konsentrasie kampe in verskillende lande gestuur. Ongeveer 109 000 Italiaanse krygsgevangenes is Suid Afrika toe gestuur. Dit het in Junie 1942 begin toe 25 000 gevangenes toegelaat was om as geskoolde arbeiders op Suid-Afrikaanse plase te werk en te bou aan bergpasse soos Du Toitskloof en Chapmanspiek.
Diego Martini was een van hierdie Italianers en hy is na ‘n plaas gestuur wat besit was deur die grootouers van Jeanine Dreyer. Jeanine en haar man Jan besit Nietgegund.
Diego Martini was ‘n geleerde man uit die suide van Italië. Jeanine se ma se jonger sussie (Meintjie) het gou verlief geraak op hierdie aantreklike, slim en opgevoede Italianer wat gereeld vir die gesin die wonderlikste Italiaanse disse voorberei het. Diego was gou toegelaat om saam met die gesin in die plaashuis te woon.Teen die einde van die oorlog toe dit tyd raak vir Diego om terug Italië toe te gaan, het hy Meintjie se ouers gevra om met haar te trou. Haar ouers was egter gekant teen so ‘n huwelik omdat hulle eerder hul dogter met ‘n Suid-Afrikaner sou wou sien trou. Met Meintjie in trane en Diego hartseer het hy opgepak om terug Italië toe te reis. Hy het as ‘n geskenk sy Italiaanse kookboek by Meintjie gelos. Een van die resepte in hierdie boek was vir egte Italiaanse limoncello.
Meintjie het mettertyd met ‘n Suid-Afrikaner getrou maar die huwelik het nie lank gehou nie en sy moes self haar 4 kinders grootmaak. Sy het nooit ophou dink aan die liefde van haar lewe nie, en in haar later jare het haar kinders navorsing gedoen oor Diego Martini en uigevind waar hy woon. Hy was die eienaar van ‘n groot, suksesvolle plaas in Amalfi in die suide van Italië. Hulle het kontak gemaak met Diego en gevra of hul moeder vir hom kan kom kuier. Hulle het haar toe oorgestuur waar sy by Diego gaan kuier het. Sy het heerlik daar gekuier en alhoewel hy haar gevra het om by hom te kom woon, het sy besluit om liewers haar laaste dae naby haar kinders en kleinkinders deur te bring.
Nietgegund het ‘n suurlemoen boord met suurlemoene soortgelyk aan dié wat jy in die suide van Italië kry en wat daar vir hul wêreldbekende limoncello gebruik word. Jeanine Dreyer gebruik die resep uit Diego se kookboek om limoncello te maak. Die skille van die suurlemoen lê vir 2 maande in ‘n spesiale, suiwer alkohol wat al die suurlemoen geure uittrek, waarna dit fyn gesif word en dan met ‘n fyn suikerstroop gemeng word. Die limoncello het ‘n heerlike nasmaak, kom in ‘n pragtige bottel en verpakking en met ‘n alkohol inhoud van 32%. In Itlaië is limoncello gewild as ‘n pallet skoonmaker asook na etes om met spysvertering te help. Gaste by ons proelokaal kry ‘n glasie limoncello as ‘n verwelkomings drankie. Dit word uit die vrieskas yskoud bedien en is te koop op die plaas sowel as deur ons aanlyn verkope.
